Die mond van waarheid
Die legende lui as jy jou hand in die mond van die waarheid sit en jy is ‘n leuenaar gaan jy die hand verloor! Die marmer masker weeg 1300kg en is beskikbaar vir jou hand in Rome op die muur van die Santa Maria in Cosmedin kerk. Wees versigtig!
Eintlik wil ek oor die waarheid praat.
Ek is van opinie dat die waarheid in die moderne wêreld gesneuwel het. Dit begin reeds in my eerste sin want dit is my opinie! Opinies het by die waarheid oorgeneem.
Met die skrywe hievan is Skynews aan op die TV en hulle praat van die Arbeiders party se “landslide” oorwinning in Brittanje. Feite of opinie. Hulle het baie meer setels gewen in die verkiesing – een van die grootste ooit. Waarheid? Ja. Aan die ander kant het hulle net 34% van die uitgebragde stemme gekry. Waarheid? Ja. Saam met die mense wat nie gestem het nie (40%) het 80% van die Britte nie vir die arbeiders gestem nie. Waarheid? Ja. Die waarheid kan dus op verskeie manier aangewend word en dit gebeur deur opinies wat die feite interpreteer ter wille van hul standpunt.

Dieselfde gebeur in die Oekraine en in die Midde-Ooste en noem maar op. Dit begin al in elkeen se huis as ons vir mekaar wegsteek hoe ons voel want die waarheid kan miskien skade doen.
Tog word daar gesê die waarheid maak vry! Dit mag vrymaak maar dit gaan my nie verkies kry nie! Weer in die Britse verkiesing: Daar is videos op Youtube van Starmer wat ontken dat hy iets gesê het en dan wys hul die video waar hy dit gesê het. So ook Sunak. Moenie eers praat van Biden, Trump, Macron (ek noem hom Micron) en noem maar op nie. Julle sal sien ek vermy Suid Afrika! Dit is vanselfsprekend.
En toe stem die Franse. Oor 4 maande die VSA. Die waarheid gaan weer en weer val en opinies wen. Ons gaan almal opinies vorm. My oplossing is om meer en meer opinies te soek. Daarom lees en kyk ek alle nuusdienste: Enews, Sky, CNN, Al Jaseera, Russia Today en noem maar op. (RT gestop op DSTV maar op die Internet beskikbaar) Natuurlik lees ek ons koerante wat gaan verdwyn. Ek vorm my eie opinie wat my waarheid word. Want vandag is jou opinie jou waarheid.
Die waarheid bestaan nie meer nie. Ek sou graag my opinie so na as moontlik aan die regte waarheid wil laat kom voordat ek my hand in die mond van die waarheid steek!
Is dit haalbaar?
